Sunday, January 23, 2022

Martie Jacobs in ‘n klas van haar eie - ‘n ware engel...

 Deur Hanlery Bouwer

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Martie Jacobs het in Rustenburg grootgeword en was in haar kinderjare 'n egte plaasnooi hoewel sy vir 'n groot deel van haar lewe eintlik in die kollig gehoort het en honderde meisies met modeldrome gehelp het om hul drome in die kollig te verwesenlik. 

Martie en Hanlery Bouwer wat hierdie huldeblyk geskryf het, was vir dekades lank hegte vriendinne - 'n mooi vriendskap wat toevallig ook in die skaduwee van die kollig ontstaan het. 

"As jong vrou het sy graag vir my gewys waar hulle familieplaas hier in Rustenburg was en waar sy as kind met haar perd gery het", vertel Hanlery. Die plaas het van die Rustenburg Kloof tot anderkant die grond waarop die Waterfall Mall vandag geleë is, gestrek. Sy was 'n pragtige vrou met 'n ewemooi hart en ek het altyd gedink haar ster gaan verewig skyn", gaan Hanlery voort. 

Op haar stil, minsame manier het sy in baie koerante verskyn, as model asook as modeljuffrou en organiseerder van baie groot kompetisies. Sy het vir 38 jaar en langer modelle opgelei en afgerig en topprestasies behaal wat baie ander nou nog nie kon ewenaar nie. Sy was 23 jaar betrokke by die Rustenburg Skou en Mej Rustenburg Skou. Ek het Martie 35 jaar terug ontmoet, toe ek met 'n kombi vol modelle van Johannesburg af gery het om aan haar prestige kompetisie - Mej Bosveld Sjampanjenooi - te kom deelneem. Soos hulle in Engels sê "history was made" en ons was dadelik maatjies "through thick and thin". 

Martie het in haar lewe honderde mense, indien nie duisende nie, se lewens aangeraak. Sy het meisies geleer om mooi te loop, mooi houdings te hê en selfvertroue het sy beslis in almal ingeboesem. Haar pragtige maniere en vriendelikheid het harte aangeraak oral waar sy gegaan het. Haar modelle het in Suid-Afrika en oorsee presteer, sy was selfs in 'n stadium vir 'n lang tyd 'n modelagent vir modelle in en van Italië. 

Martie se professionele benadering tot die bedryf het daartoe gelei dat baie van haar modelle later in hul lewens hul eie modelskole geopen het. Sy was 'n "volmaakte engel" sê Koos wat haar in haar laaste maande bygestaan het. Haar seuns, Dirkie en Rhyno, met hulle vrouens en haar kleinkinders was alles in haar lewe. Suid-Afrika en nie net Rustenburg nie, het inderdaad 'n ware legende verloor. Haar stem en daardie laggie is nou stil, maar nooit, ooit die harte wat sy aangeraak het nie. "Hierdie geliefde vriendin van my het 'n verskil in baie mense se lewens gemaak. Haar goue hart skitter na haar afsterwe gewis in die hemel en ek weet soos ek haar ken, gesels sy met almal en vertel vir hulle hoe "pragtig" hulle is. Pragtig was haar gunsteling woord. "Pragtig" som haar goed op maar ook ander woorde soos "mooi", "stylvol", "behulpsaam" - sy het mense nooit geoordeel nie en haarself altyd laaste geplaas - ander mense was altyd eerste. Min mense het geweet hoe sy met haar stukkende hart en pyn nooit nee gesê het nie. Die voorbeeld wat Martie gestel het, behoortlik vir die meeste van ons die ideale voorbeeld te wees. "I and numerous models and beautiful women salute the biggest modelling legend in South Africa". 

Haar nalatenskap sal waarskynlik voortleef in Rustenburg aangesien haar skoondogter belangstel om met Martionette Modelskool hier in Rustenburg voort te gaan. Sy het reeds 'n tak waar sy in Pretoria woon, maar tyd sal leer. "Ons lig ons hoede hoog vir 'n ware dame wat vir langer as 40 jaar gehelp het om honderde meisies en jong vroue se modeldrome laat skitter het".


No comments:

Post a Comment