Wednesday, February 16, 2022

Deel 2: Is die mens sy troeteldiere se grootste vyand?

Die redakteur,

In die tweede aflewering van die mens wat sy eie huisdiere verwaarloos en verstoot, wil ek die volgende verhaal met u deel vanuit ‘n hond se belewenis: “My mense was so lief vir my toe ek klein was, hulle het my gekoester, my liefde gegee en met my gespeel. Toe word ek ouer, alles was nog reg, maar toe word ek in die motor gelaai. Min het ek geweet dat dit my laaste keer is dat my eienaars my ooit weer sal sien. Ek was nog opgewonde want vir die eerste keer ry ek saam, dit voel so lekker om saam te ry. Iewers stop die motor en ek voel dat dinge nie reg is nie. Die deur word oopgemaak en my eienaar haal my uit die motor uit. Ek hoor baie diere blaf en huil en toe raak ek vreesbevange. My eienaar hou my nog vir ‘n rukkie vas en sit my in ‘n hok buite ‘n vreemde plek waar die hekkie gesluit word.

Ek is so verward en met blydskap waai ek tog my stert en ek sien hoe my eienaar verdwyn en wegry. Ek hoor hoe almal huil om my en met my stert tussen my bene beleef ek ‘n vrees. Ek gaan lê op die kombersie wat in die hok neergelê is. Meteens sien ek ‘n vreemde mens naderkom. Ek blaf en knor maar ‘n hand reik uit en vryf my oor my kop en lyf. Ek is bang en kruip al hoe dieper in die hok in om weg te kruip. Die persoon praat met my en streel my en daarom kruip ek nader en wonder of sy my gaan seermaak of nie. Ek voel tog verlig, maar bang. Sy sit ‘n rukkie by my en dit voel so goed en lekker - dalk gee sy vir my om.

Later staan sy op en verlaat die hok met die hekkie wat sy agter haar toemaak. Nou is ek weer op my eie, alleen, kry nie geslaap nie want almal om my huil vir hulle eienaars en ek huil vir myne. Dit voel in die nagtelike ure so koud en alleen.

Al het ek genoeg kos en water, voel dit so alleen hier in die hok. Ek begin depressief raak want mense stap by my hok verby sonder om aandag te gee. In my gedagtes wonder ek wat moet ek doen om raakgesien te word, om net ‘n bietjie liefde te kry?

So gaan dae verby en weke en elke aand huil almal om my en elke dag blaf almal om my. Gaan iemand my kom haal, of gaan ek vir ewig alleen wees?”.

Spreuke 12:10 sê: “’n Goeie mens sien om na die welsyn (behoeftes) van sy diere, maar die goedheid van die goddelose is wreed teenoor sy diere”.

Pastoor Jackie Gouws

No comments:

Post a Comment